Saturday, June 16, 2007

Tony & Angela se plaas

Hallo (16/6/2007)

Ons was gou verlede Sondag saam met Angela (Tony se vrou) uit plaas toe in Seddon om die plaas diere kos te gee. Angela en baba Jimmy het n paar dae by ons in die dorp gebly omdat Jimmy kroep gehad het en sy naby die hospitaal wou wees.

Die is Tony & Angela se 90 ha plaas en uitsig wat hulle gekoop het om later n huis op te kan bou. Tot dusver is daar net 3 koeie en n spul skape... wat natuurlik nie geslag kan word nie want elkeen het klaar n naam... en shame... Ek is ook maar bly ons bly nie daar nie want al is die uitsig mooi is dit baie kouer as sommer net koud en winderig.

Tony-hulle bly tans in n huur huis oorkant die pad waar hulle 4 perde aanhou, hoenders (elkeen met n naam) n kat en 2 honde. Een van die honde het 'n ruk terug van die bakkie afgeval, en so sy een been verloor...

Hier help Ben vir Angela om die voer los te maak en rond te strooi sodat al wat skaap en koei is kan kry.

Dit was 'n BAIE koue dag, maar gelukkig het die wind nie gewaai nie...

Saturday, June 9, 2007

Huis, Paleis, 15 Barratt Street

Hi Almal,
Ons kyk nou al n hele tydjie na huise en huis pryse... en ons het nou n aanbod op n huis gemaak. Dis n huisie wat in 1952 gebou is, is in baie goeie strukturele toestand alhoewel die staanpilare waarop die hout huis rus vervang moet word. Maar dit bly 'n baie goeie begin. Daar is natuurlik n paar verbeteringe (en die afdakkie goed oor die vensters moet groet) wat aangebring moet word, maar almal hier met wie ons te doen gekry het reken dit is n goeie koop.
Die aanbod is aanvaar en ons neem om en by 20 Julie eienaarskap. Of dalk vroeer as dit so gereel kan word en albei partye gelukkig is.
Die erfie (hier genoem n section) is 527 m2 met n 70 m2, 2 slaapkamer huisie op en n enkel, losstaande garage. Dis in n doodloop straat so dit behoort lekker stil te wees...
Die tuin kort werk, maar met 'n bietjie hulp om ons in die regte rigting te wys, glo ons nie dit is 'n probleem nie.
En ons skip het ook die 5de Junie al gedok. Die mense was effe deurmekaar want hulle het eers gese dis nog nie eers in Singapoer nie en die volgende dag toe laai hulle dit al in Lyttelton Hawe (net onder Christchurch) af. Ons huisraad word gestoor sodat hulle dit vir ons later kan aflewer.
vir die wat sou belang stel - op google earth is die lengte en breedte grade :
Latitude: 41°31'26.49"S Longitude: 173°57'33.50"E

Skaap Tjops (nie vir sensitiewe kykers)

Soos julle dalk kan of nie kan onthou nie het die Fitzies n skaap (Billie). Billie was bedoel om kos te wees maar gedra homself nou al so mooi soos n hond dat hulle te geheg is aan hom om hom te slag...Billie het onlangs 4 maatjies gekry maar hy was nie baie beindruk met hulle nie en was taamlik jaloers as hulle naby mense kom. Hulle was daar om geslag te word, maar is eers 'n week vantevore geskeer weens wette wat dit moeilik maak om skaapvelle te verkoop - hulle kon darem iets vir die wol kry. Al die skape, insluitende Billie, was in n klein kampie toe gemaak, hulle probeer om nooit net 1 skaap in die kamp oor te los nie omdat hulle heeltemal bos raak. Billie moes egter kort nadat hy in die kamp geplaas is uitgelaat word omdat hy heel mal gegaan het. Hy het seker onthou wat laas gebeur het met die wat daar toegemaak was.... Vroeg oggend het Brian n diep gat in die groente tuin gemaak (Ben het gehelp) om die 4 skape se velle, koppe en ingewande te kan begrawe. Yogi - Brian se vriend het die skape kom keel afsny en die velle afgetrek en ingewande uitgehaal. Dit was nogal n bloederige storie as die skape so skop met a afnek met bloed wat so n straal by sy slagaar uitspuit. Die hele afere het nogal vinnig gegaan en die 4 karkasse het binne 2 ure se speel in die koelkamer gehang gereed vir die slagter om hulle op te sny. Die sagste skaapboudjie wat ons in 'n lang tyd gehad het.... Die honde het die hele slagting so geniet want hulle het al die bloed later opgelek toe Brian besig was om alles op te ruim. Ek en Ben het die velle, koppe en ingewande gaan begrawe. - dit het nogal erg gestink. Ons dink van die maag sappe of gal of iets het gebars met die intiep.

Marlborough & Sounds (2/7/2007)

Ons het Saterdag (2/6/2007) bietjie die pad gevat en die omgewing gaan verken. 9.30 vertrek ons van 25 Goodman Street en kies koers na Picton, noord van Blenheim. Picton is die klein port aan die punt van die Queen Charlotte Sound. Mens kan hier op staptoere gaan of op die strande gaan le. Die Marlborough Sounds bestaan uit 1500 km kuslyn, waar mens op die Queen Charlotte Track kan gaan stap, Dolfyne en Walvisse gaan kyk, visvang of net ontspan in die heerlike klimaat.
Daar is dan ook die groot trekpleister vir die dorpie en dit is die daaglikse ferry rit vanaf Picton na Wellington, die hoofstad van NZ, gelee op die suidelike deel van die noord eiland. Ons het van Picton af oor die bergpas (Queen Charlotte Drive) gery na Havelock: Die Groenskulp mossel hoofstad in die wereld alhoewel dit n klein seekus dorpie van omtrent 450 mense is, om daar n markie te besoek – wat glad nie iets was om oor te skryf nie. Die pad wat ons gery het om daar te kom was reig baie mooi. Ons het maar by n paar winkeltjies rondgeloer en toe ons uitkom om kar toe te gaan...tel Karen $15 op. Havelock is ook die weg na Kenepuru en Pelorus Sounds van Marlborough, Hier begin n stap roete wat lei na die 'amazing bush clad Nydia Track'. Havelock is in die hart van die Marlborough Distrik en het sy Sauvignon Blanc wynkelders sentraal rondom Nelson, Blenheim en Picton, so dis maklik om hulle te bereik per pad, lug of see (as mens nou met die Inter Islander Ferry reis na Picton). Van hier is ons verder wes na Nelson – gestop by die koekie winkel (Couplands) vir Ben om n voorraad Gemmer en Choc-chip koekies te kry vir die lang pad. Nelson self het ook nie n tekort aan buitelug aktiwiteite nie, bergfiets roetes en watersport is hier gewild. Die Stad is gelee tussen Maitai Valley en Tahunanui Beach- albei toeriste aantreklikhede. En met Richmond Forest Park basies om die draai en Rabbit Island Beach n kort rit weg is dit n ideale plek. Die stad is gepak met winkels vir elke smaak,museums, ens. Daarvan deur al die klein dorpies om tot by Tophouse en al met die rivier langs terug huistoe.(320km in n anti-kloksgewyse rigting)
Sondag is die werf weer bietjie opgeruim Tony se Pa (Brian) het n woodsplitter gaan huur omdat hulle moerse groot Bloekom boom in die agterplaas laas jaar al omgewaai het en net in ringe opgesaag is en net so gelos. So al die groot stukke is uitgedelf tussen die ander kleiner stukke hout stompe en takke. Brian het ook n effense ongelukkie gehad met die woodsplitter, toe n stomp laat spat en hom op sy ken tref! Dit het erge gebloei maar gelukkig was dit nie dwarsdeur sy lip nie. Al die afval hout en skerwe, koerante, bokse, tuinvullis en wat ookal is toe op n groot hoop gepak en n moerse groot bonfire is weer Maandag oggend begin . (Dit was n vakansie dag hier waar hulle die Koning/Koningin van Engeland se verjaarsdag vier). Ons het ook n helse spul takke en onkruid langs die treinspoor aan die brand gesteek. Die trein het darem net n paar keer getoet maar hy kon darem sy spoor kry. Die vuur in die agterplaas het Dinsdagaand nog gebrand! :)